Write a Review

Die Kartel

All Rights Reserved ©

HOOFSTUK 2

Die volgende oggend is Emma vroeg uit die bed uit. Sy trek haar bikini aan met ’n strandjurk oor. Sy sit haar sonhoed op en gooi ’n handoek oor haar skouer. Sy slenter op haar tyd na die bankie toe. Sy gaan sit op die bankie en geniet die son wat op haar vel skyn. So ’n half uur later kom Stiaan ontspanne aangestap. Hy sien Emma sit die son en aanbid, maar haar oë is toe. Hy loop tot agter die bankie en laat gly sy vinger oor haar wang van agter af. Emma skrik uit haar droomwêreld uit wakker.

“Môre mooie dame” groet Stiaan. Verlig maak Emma haar oë oop toe sy hoor dit is Stiaan. “Hoekom skrik jy so groot?”

“Ek weet nie of ek my verbeel nie maar ek voel van tyd tot tyd of iemand my dophou. My hare in my nek staan regop en ek voel uiters ongemaklik, maar as ek rondkyk sien ek niemand nie. Dalk verbeel ek my dit net.”

“Ek sal probeer om rond te kyk, kyk of ek iets sien” sê Stiaan bekommerd.

Hy loop om die bankie en trek Emma aan haar hande op en trek haar teen hom aan.

“Ek sal jou beskerm teen die wolwe daar buite” sê Stiaan en kyk intens in Emma se oë.

Daar is weer daardie volts wat deur haar liggaam trek. Die ergste van alles is dat dit so tussen haar bene vassteek. Hierdie man mors met haar hormone en Emma sukkel om haarself te beheer. Hulle is nou in die openbaar en kan nie hier staan en intens raak nie. Sy is in elk geval nog ’n maagd en hoe gaan sy dit vir Stiaan verduidelik, as haar liggaam so gretig reageer as hy naby haar is.

Hy dink seker sy het al ’n hele paar mans in haar bed gehad. Sy is tog al sewe en twintig en teen die tyd het meeste vrouens lankal hulle maadgelikheid opgegee. Veral in vandag se lewe. Die naaste wat sy al aan die bed kaskenades gekom het, is wat sy in boeke gelees het. Sy het net nog nie die regte man ontmoet om haar alles vir hom te wou gee nie.

Emma en Stiaan loop hand aan hand af na die strand toe. Hulle voel so gemaklik bymekaar, asof hulle mekaar al jare ken. Op die sand skop hulle hulle skoene uit en die sand kielie Emma se voete. Sy loop baie min kaalvoet so dit is ’n snaakse gevoel onder haar voete tot sy dit gewoond raak. Hulle kry ’n hoekie op die stand wat bietjie weggesteek is. Hulle gooi hulle handoeke oop op die sand en lê lui lekker en bak in die son.

Toe ’n uur verby is sê Stiaan lui “kom ons gaan koel ’n bietjie in die water af” terwyl hy die sweet van sy voorkop afvee.

“Ag nee wat ek lê nou te lekker en bak” antwoord Emma lui. “Gaan trotseer jy die koue water.”

Maar die volgende oomblik vlieg Stiaan op en raap haar in sy arms op en hardloop met haar in die water in. Emma gil so ver as wat hy hardloop. Hy sit haar in die vlak water neer. Sy probeer weg hardloop maar Stiaan kry haar aan die arm beet en voor sy kon keer trek hy haar dieper in die branders in. Sy spat water na sy kant toe sodat hy haar moet los, maar hy trek haar nader en draai haar om om na die branders te kyk. Hy sit sy arm om haar middellyf en hou haar vas vir die volgende brander wat teen hulle slaan.

Emma snak na haar asem toe die koue water oor haar spat.

“Jou skobbejak, ek sal jou terug kry vir hierdie een” skree Emma bo die gedruis van die branders uit.

Stiaan lag lekker uit sy maag en laat Emma gaan. Sy spaander vir die strand terwyl Stiaan in die volgende brander in duik. Emma loop terug na hulle handoeke toe en kry weer die gevoel dat sy dopgehou word. Ag nee man, jy is met vakansie. Wie sal jou dan hier wil dophou, skud sy die gedagte af. Sy gaan sit op haar handdoek en kyk hoe Stiaan in die branders baljaar. Die strand is nou besig om voller te word soos ander vakansie gangers opdaag. Emma sit ingedagte en kyk hoe ’n paartjie met hulle kleuter in die vlakwater speel.

Sy verkyk haar so dat sy nie sien Stiaan kom aangestap nie. Hy sien waarna sy kyk en wonder of hy ooit die voorreg sal hê om ’n gesin van sy eie te kan hê. Met die besigheid is hy baie min lank genoeg in een plek. Maar aan die ander kant is hy nog glad nie reg om te trou nie. Nie nou nie, sy besigheid neem te veel van sy tyd in beslag en verg al sy aandag.

Eers toe Stiaan in haar son kom staan en ’n skaduwee oor haar gooi, kom sy agter hy staan by haar.

“Wat sien jy?” vra hy ongeërgd.

“Ek kyk vir daardie paartjie met die kleuter. Die kleinding speel so lekker in die water. Snaaks dat kinders so lief is vir water” merk sy op.

Stiaan kyk vir ’n oomblik vir die kind wat speel dan vra hy “jy is nie dalk lus vir ’n roomys nie” sê Stiaan met ’n stoute trek in die oog.

Emma sien dit raak en sê vinnig “nee dankie, ek wil nie weer daardie koue roomys op my bors hê nie. Ek wonder nog steeds of jy dit nie aspris gedoen het nie” sê sy en kyk ondersoekend na Stiaan. Met daardie stoute glimlag om sy aantreklike mond vermoed sy dat hy dit wel aspris kon gedoen het om haar aandag te trek.

“Nee ek belowe dit was regtig ’n ongeluk. Ek is allergies vir bye en toe die een so naby my gesig kom, het ek begin paniekerig raak want ek weet wat die gevolge van sy angel in my neus gaan wees. Toe klap ek so woes dat die roomys uit my hand uit vlieg en op jou mooi bors te lande kom. Regtig dit was ’n ongeluk” lag Stiaan onskuldig.

“Ek wonder darem of daar regtig ’n by was, maar toemaar jy is vergewe” sê Emma, maar dit blits deur haar gedagtes dat sy nie sal omgee as Stiaan die roomys van haar sal af lek nie. Dit is seker die see lug wat haar al hierdie gedagtes laat kry. Vars lug mors met haar brein, dink Emma en skud haar kop.

“Ek dink ’n koeldrank sal lekker wees, dankie” antwoord Emma.

Stiaan vat sy beursie en is oppad na die winkeltjie toe by die strand. Toe hy met die trappe oploop, sien hy ’n man staan wat glad nie pas by die res van die omgewing nie. Wie sal nou strand toe kom het swart klere en geen strand drag of iets wat hier hoort nie. Hy sal sy span moet laat weet. Hy het vir hulle gevra om wel teenwoordig te wees as hy in die openbaar is, maar dat hulle hulle afstand moet hou. Hy sien sy een man staan by die ingang van die winkeltjie. So asof hy ook hierdie vreemdeling opgemerk het, wat glad nie inpas nie. Stiaan kyk sy kollega in die oë en knik liggies met sy kop. Die kollega weet nou om hierdie man dop te hou en hy stuur die boodskap deur na die ander wat op strategiese punte op die strand geplaas is. Hulle almal lyk of hulle met vakansie is, so hulle sal glad nie uitstaan of aandag trek nie.

Die man in die swart lyk sommer soos ’n skelm. Sy vel is blas en lyk of hy van Mexiko afkomstig kan wees. Hy het pikgietswart hare wat olierig voorkom. Hy het ’n litteken in sy gesig op sy linkerkantste wang. Dit lyk of sy gesig sleg gesny was op ’n tyd. Hy het ook ’n tatoo in sy nek wat lyk soos ’n kobra wat bakkop staan. Stiaan sal dat sy manne navorsing doen oor wie hierdie man kan wees. Soms kom hulle van ander lande af en word gehuur om mense te vermoor of te ontvoer vir ’n losprys. Dalk is Stiaan sy teiken. Maar die man het nie oogkontak gemaak toe Stiaan verby hom geloop het nie. Hy het iemand op die strand dop gehou. Hy weet hy het al groot besigheidsmense se hare verkeerde kant toe gevryf, maar nie so erg dat hulle sommer ’n losprys op hom sal plaas nie. Dalk is dit Emma. Sy het juis genoem dit voel of iemand haar dophou. Hy sal moet versigtig wees en sy oë wyd oophou.

Terug op die strand gee Stiaan vir Emma haar koeldrank.

“Dankie” sê Emma en drink ’n groot tuig uit die blikkie uit. Die hitte hier op die strand het haar baie dors gemaak. Stiaan moet nou aan ’n plan dink om Emma van die strand af te kry en in haar woonstel sodat hy met sy manne kan praat om sekuriteit vir hul albei op te skerp en te probeer uitvind wie daardie vreemde man by die strand is.

“Is jy honger?” My maag grommel van die honger.”

“Ja ek voel ook so ’n bietjie dun. Hoekom gaan trek jy nie droog aan nie dan gaan ek gou winkel toe om vir ons bestandele te koop vir ’n ligte middagete.”

“Dit is ’n goeie plan. Ek sal jou dan weer oor ’n uur by jou woonstel sien.”

“Afgespreek.”

Hulle staan op en kry hulle handoeke en stap terug na haar woonstel se kant toe. Stiaan vergesel haar weer tot by die hysbak en druk ’n soen op haar voorkop toe hulle groet. Hy haas hom uit die gebou uit sodat hy by sy eenheid kan uitkom.

Net uit sig uit sê hy vir een van sy manne wat agter hulle aan geloop het, om homself te versteek en die hele tyd ’n oog op Emma te hou. Hy verduidelik vir hom dat sy nou enige tyd weer sal uitkom om winkels toe te gaan en dat hy haar die hele tyd moet dophou.

“Dis reg so meneer” antwoord hy. Stiaan haas hom toe na sy eenheid en roep al sy manne bymekaar.

“Het jy daardie vreemdeling mooi bekyk op die strand Hannes?”

“Ja ek het, maar kon ongelukkig nie ’n foto van hom steel nie. Ek het wel die merk in sy gesig opgemerk en ook die tatoo in sy nek. Ek dink dit sal genoeg wees om deur ons netwerk te stuur om sy identiteit te bekom.”

“Dis goed so, dankie. Laat weet my sodra julle weet wie dit is. Ons sal nou ons sekuriteit moet opskerp, want as ek nie die teiken is nie, kan dit dalk Emma wees. Ek stel voor dat ons ten alle tye oë op haar moet hê. Ek wil dit nie graag doen nie, maar ons sal moet uitvind wie Emma werklik is en waarom hierdie man van haar ’n teiken maak.”

“Dit is in die hak, ons sal alles uitvind wat ons kan” antwoord Hannes en die manne begin dadelik werk maak van die saak.

“Ek het vir Louis gevra om Emma dop te hou, so hy is by haar voordeur geplaas en sal haar volg as sy winkels toe gaan” noem hy vir Hannes.

“Goed so, Louis sal haar soos goud oppas”.

Intussen het Emma gou gestort en trek gemaklike klere aan. Sy vat haar handsakkie om winkels toe te gaan. Sy sal vir hulle ’n ligte maaltyd maak, en sommer iets soets kry vir nagereg. Dadelik flits haar gedagtes na die roomys. Sal dit ’n goeie idee wees, wonder sy by haarself as sy dink aan haar eie stoute gedagtes. Sy ry af met die hysbak en is so ingedagte dat sy nie die vreemdeling in swart klere opmerk wat half agter die struike wegkruip nie. Maar Louis sien hom dadelik raak. Hy sien Emma kies koers hoofstraat toe en slenter agterna. Hy maak asof hy in al die winkeltjies loop en kyk. Die vreemdeling doen dieselfde en sien nie dat Louis hom ook dophou nie.

Emma koop ’n paar goedjies en loop rustig terug na haar woonstel toe. Dit lyk vir Louis of die vreemdeling haar net dophou vir nou. Hy sien nie dat daar van die man se makkers daar is om haar skade aan te doen nie. Maar hoekom hou hy haar dop in die eerste plek, wonder hy. Hy sal haar beskerm teen hierdie lelike man. Hy het so ’n wrede trek om sy mond en lyk of hy bloeddorstig is en baie gevaarlik kan wees. Hy sal hier bly sit in sy wegkruipplek tot hy sien Stiaan is in die gebou. Dan sal hy wag vir verdere instruksies.

Toe Stiaan klaar gestort het en weer in sy kantoor in sy eenheid by die manne aansluit sê Hannes “hierdie man se naam is Ramoz Salvador. Hy is verbonde aan ’n mafia wat in ’n deel van Mexiko regeer. Hy staan ook bekend as ‘Viper’. Hy het ’n manier om mense sonder enige simpatie om die lewe te bring. Blits vinnig, net soos ’n slang wat pik. Dit het ook nie altyd te doen met dwelms nie, maar iewers moet daar ’n verbintenis wees met Emma. Ons het uitgeving sy is inderdaard Emma Sutherland en haar pa is die biljoener Grant Sutherland. Hy is blykbaar besig met een of ander onderhandelinge in Suid-Amerika en ons weet nog nie of Emma dalk met die wetlike aspekte van die onderhandelinge op iets sal afkom wat hierdie bende sal ontbloot vir hulle aandeel in die dwelm bedryf in Suid-Amerika na Suid-Afrika toe nie. Dit moet groot wees want anders sal hulle nie vir Viper stuur om haar uit te haal nie” sluit Hannes af.

Nou is Stiaan eers bekommerd. Hierdie het niks met hom te doen nie, maar hy kan ook nie op die kantlyn staan en toekyk hoe Emma ontvoer en vermoor word nie. Hy het die hulpbronne om haar te beskerm. Hy sal vanmiddag probeer om ’n klein toestel iewers in haar persoonlike besittngs te plaas waarmee hy haar kan agtervolg as hy nie by haar is nie. Hy sal hard moet probeer om nie vir Emma te sê in watse gevaar sy regtig verkeer nie.

Daar is ’n ligte klop aan Emma se deur en sy kyk eers deur die loergaatjie om te sien wie dit is want terwyl sy winkel toe gestap het, het sy heeltyd daardie gevoel gehad dat daar oë op haar is. Dit is Stiaan en sy slaak ’n sug van verligting. Sy het al die hele tyd probeer dink wie dit kan wees wat haar dophou. Sy weet haar pa is besig met besigheid in Suid-Amerika en sy het gesê sy wil eers kom vakansie hou op haar eie voor sy met die spesifieke transaksie begin werk. Dit is baie gekompliseerd en het baie vangplekke. Sy wil eers haar kop skoon kry voor sy al haar aandag daaraan gee.

“Hallo, jy is net betyds. Die kos is nou net reg. Ek hoop jy is honger?”

“My maag grom al ’n half uur terug. Ek het vir ons ’n bottel wyn gebring” sê hy terwyl hy dit oplig.

Maar hy sien eers vir Emma raak waar sy in ’n mooi somersrokkie uitgevat is. Sy lyk so jonk en onskuldig en tog so mooi. ’n Natuurlike mooi wat nie enige vrou het nie en ’n warmte wat baie van die vrouens wat hy al mee uitgegaan het, glad nie het nie. Hy is gewoond aan die modelle wat hom meestal vergesel na sy funksies en hulle lyk altyd soos poppe. Nooit ’n haar uit sy plek nie en partykeer te veel grimering op hulle gesigte. Ook snobisties wat hulle neuse vir enige iets sal optrek. Emma is van nature mooi, selfs sonder grimering. En sy is gemaklik in haar vel en met wie sy is. Dit vat baie staal om met sulke ingewikkelde wetlike aspekte te kan deel sonder om afgeskrik te word.

Continue Reading Next Chapter

About Us

Inkitt is the world’s first reader-powered publisher, providing a platform to discover hidden talents and turn them into globally successful authors. Write captivating stories, read enchanting novels, and we’ll publish the books our readers love most on our sister app, GALATEA and other formats.