HOOFSTUK 1
Anzelle skrik met ’n skok wakker. Sy kyk verward op haar klokhorisie langs haar bed.
“Ag nee man, hoekom het die wekker nie afgegaan nie” praat sy hardop met haarself. Sy gooi haastig die komberse van haar af. Dis al kwart oor nege en sy moet tien uur by die lughawe wees om te rapporteer vir diens. Vandag vlieg hulle na Saudi Arabia toe. Dit sal haar leer om saam met haar vriendinne te kuier tot in die vroeë oggend ure. Sy hardloop in die badkamer in en draai vinnig die stort se krane oop, ruk haar slaapklere af en word onverwags gevang deur die water wat nog nie heeltemal warm is nie. Dit laat haar snak na haar asem en haar slape klop van die babbelas hoofpyn wat sit van al die tequila wat sy gisteraand so weggeslaan het.
Daar gaan nie tyd wees vir koffie drink nie. Sy sal by die lughawe koffie kry. Vir eers moet sy haarself netjies kry. Haar uniform hang klaar gestryk teen haar kas se deur. Sy het dit gister gedoen voor sy saam met haar vriendinne uitegegaan het. Haar tas is ook klaar gepak vir die opkomende vlug, want sy het geweet daar gaan nie vanoggend tyd wees daarvoor nie.
Sy was vinnig haar lyf, maar los haar hare en vlieg by die stort uit. Haar hare is dik en sal te lank vat om droog te word. Daar is ook nie nou tyd vir mooi maak nie. Sy maak haar lang hare in ’n bolla vas en gryp gou ’n grimering kwassie en wend vinnig die basiese grimering aan. Die fynere grimering sal sy op die lughawe doen terwyl hulle wag om aan boord die vliegtuig te gaan. Sy trek vinnig haar uniform aan en gryp twee hoofpynpille uit haar bedkassie se laai uit. Sy sluk dit vinnig af en verstik aan die water. Toe sy haar asem terug gekry het, gryp sy haar tas en motor sleutels en hardloop by die deur uit. Sy val amper by die trappe van haar meenthuis af. Haar hand gryp kramagtig die reëling vas en sy kry dit reg om haar balans te hou.
Sy spring in haar klein motortjie en beland op die snelweg wat byna stilstaan. O nee as die dag eers so begin, dan weet ek nie hoe gaan hy verder voorloop nie, dink Anzelle toe sy ongeduldig vir ’n motoris toeter blaas wat voor haar ingesny het.
“Kan jy nie sien ek is haastig nie!” skree sy hardop in haar motor en slaan met haar hand op die stuurwiel, so asof hy haar kan hoor. Sy gee hom ’n vuil kyk toe sy uiteindelik verby hom kan gaan en sê weer “jou sot!” toe sy verby is.
Sy parkeer haar motor en haas haar na die ingang van internasionale vlugte. Sy hardloop amper tot by die hysbak met haar tas agterna en kyk nie op toe die huisbak se deure oopgaan nie. Toe sy in die hybak wil klim, trap sy met haar hakskoen in die gleuf in tussen die hysbak se vloer en die vloer self. Haar voet hak vas en sy val vorentoe in die huisbak in. Sy sien net hierdie sterk hande wat haar vang voor sy heeltemal op die grond beland. Toe sy opkyk, kyk is in ’n paar groen oë vas. Hy help haar regop.
“Is jy okei, het jy seer gekry” vra hy terwyl hy afbuk om haar skoen uit die gleuf uit te wikkel. “Ja, dankie, ek het nie seer gekry nie.”
Toe hy weer regop kom voor haar, sien sy hy het ’n effense blas vel, pik giet swart hare, met groen oë wat lyk soos smaragte wat blink in die son. Sy lippe is vol en lok ’n mens nader om hulle te soen. Haar oë gly oor sy liggaam. Hy is netjies aangetrek en sy hemp span nou om sy fris arms en borskas. Hy is baie langer as Anzelle want sy moet opkyk na hom toe. Hy het nou heupe en fris bene. En die sterk hande wat haar skoen vashou, is om van te droom. Sy wonder van waar kan hy wees, want hy dra nie tradisionele drag waaraan sy hom kan uitken nie. Hy is eintlik baie modern aangetrek.
Amir staan nog steeds met die skoen in sy hande. Hy kyk af in die meisie voor hom se mooi blou oë en blonde hare wat haar gesiggie omraam. Sy het ’n klein neusie wat ietwat wip maar perfek inpas by haar klein gesiggie. Die lippies is vol, rooi en soenbaar. Sy is baie korter as hy, maar wat ’n pragtige meisie. Hy staan versteen asof hy betower is en dis amper asof hulle altwee ’n Aspoestertjie oomblik beleef. Skielik gaan die hysbak se deur agter hom toe en kap hom op sy elmboog. Hy gee ’n tree vorentoe, terug in die hysbak in. Nadat die twee mekaar behoorlik aangestaar het, is dit Amir wat eerste begin lewe kry. Hy hou die skoen uit na Anzelle toe. Sy bloos bloedrooi toe sy die skoen by hom vat.
“Dankie, as jy my nie gevang het nie dan weet ek nie...” sê sy skaam en bloos nog rooier toe hulle vingers aan mekaar raak. Elektrisiteit van honderde volts skiet deur hul albei se liggame en by die tone uit.
“Dit lyk of jou skoen gebreek het” sê Amir terwyl hy die hak wegtrek van die res van die skoen af. Verbaas kyk Anzelle na hom.
“Jy kan afrikaans praat.”
“Ja my ma is van Suid-Afrika. Sy kuier tans hier by haar suster wat kanker het. Ek het haar vergesel tot hier. My naam is Amir.”
“Bly te kenne, ek is Anzelle” antwoord sy en plaas haar klein handjie in sy massiewe groot hand wat hy na haar toe uitsteek.
Sy moet keer om nie haar hand uit syne uit te ruk nie, want daar gaan ’n warm gloed deur haar liggaam wat amper hul hande laat brand waar dit aan mekaar raak. Stadig los Amir Anzelle se hand. Hy het dit ook gevoel.
Die hysbak se deure gaan oop op die eerste vloer en Anzelle tree ongelyk met net een skoen aan, uit die hysbak uit. Gelukkig het sy ’n ekstra paar skoene in haar tas. Sy draai om en kyk af na die stukkende skoen in haar hand.
“Baie dankie vir die hulp” bedank sy vir Amir.
“Plesier” antwoord hy terug en hulle oë smelt weer saam terwyl die deure van die hysbak toeskuif.
Baie verward staan Anzelle met die skoen in haar hand, voor sy omdraai en na die sitarea toe loop waar haar mede lugwaardinne alreeds vir haar wag. Sy besluit nog of wat nou gebeur het ’n droom of ’n nagmerrie was.
“Jinne girl, wat het met jou gebeur” vra nuuskurige Bettie.
“Hoe lyk dit vir jou” vra Anzelle snipperig terwyl sy die skoen na Bettie toe uithou en haar tong klap. Sy sit haar tas plat langs die een bank neer en gaan sit. Sy maak haar tas oop en haal ’n ander paar skoene uit.
“Môre sonskyn” groet ’n brunett vir Anzelle.
“Daar is niks sonskyn in my oggend nie, dankie.”
“Hoe nou vriendin?”
“Jy weet wat my ouma altyd gesê het van verslaap en ongelukke kom altyd in drie.”
“Ag nee man, daai is ouvrou stories. Niks kan vandag verkeerd gaan nie. Het die vliegtuig al ooit met ons geval as jy of ek vantevore verslaap het” vra Sunette vir Anzelle met haar een wenkbrou gelig.
“Nee seker nie, maar vandag het alles moontlik sover verkeerd geloop. Eers verslaap ek omdat ons te veel gedrink het gisteraand. Ek het ’n babbelas hoofpyn en dit voel soos ’n woestyn in my mond. Toe ek vanoggend hoofpyn pille drink, verstik ek aan die water. Toe val ek amper by die trappe by die meenthuis af oppad na my motor toe. Toe ek op die snelweg klim, sit daar ’n drommel en kruip voor my net om my meer te irriteer. Toe ek in die hysbak inklim, hak my skoen se hak in die gleuf vas en kyk nou hoe lyk die ding” sê sy terwyl sy haar skoen na Sunette toe uithou.
“Dis net omdat jy haastig was” troos Sunette.
“Nee my ouma het altyd gesê ongelukke kom in drie. Eers die veslaap, daarna verstik en toe val ek my byna disnis by die trappe af. En toe my skoen, wat is volgende?”
“Nee man, nou praat jy kaf. As jy mooi tel is dit vier. Moenie so ’n doem profeet wees nie” sê Sunette en tik vir Anzelle op haar skouer.
“Toe, trek aan jou ander skoene. Dis amper tyd om aan boord te gaan.”
Anzelle trek haar ander skoene aan en gooi sommer die stukkende skoen en sy maatjie in die asblik met ’n klik van die tong. Hulle maak gereed om aan boord te gaan en loop deur die gang na die vliegtuig se deur toe. Voor hulle loop die kaptein en die loots. Die kaptein loer oor sy skouer vir Sunette en sy bloos bloedrooi.
“Ek sien hoe maak Henk vir jou ogies. Hy is ’n gevaarlike een daardie. Hy gaan net met jou mors.”
“Ag ek speel net saam. Ek dink ook hy sal my hart breek. Maar hy is dan so aantreklik. So bietjie aandag kan nie skade aanrig nie” sê Sunette gemaak onskuldig.
“Ja dis wat jy nou sê. As daai man jou eers in sy arms geneem het, smelt jy soos botter. Ek ken jou nie van gister af nie. Toe kom, ons het baie om te doen.”
Hulle het ’n uur om alles reg te kry in die vliegtuig. Na al die kostrollies en verversings reg en op hul plek is, loop Sunette deur die leë vliegtuig na die kajuit toe en klop liggies aan die deur. Henk maak die deur oop.
“Ja mooi ding, waarmee kan ek jou help?”
Sy bloos effens toe sy in daardie blou oë inkyk en sê “jy kan die beheertoring laat weet dat die passasiers aanboord kan kom, kaptein Henk.”
“Ek maak so mooi ding, dankie” sê Henk met ’n knipoog.
Sunette draai eerder om en loop die gangetjie weer af voor sy en Henk mekaar dalk net soen. As die ander lugwaardinne dit sien dan gons dit weer die hele tyd op die vliegtuig dat hulle ’n verhouding het. Die ander meisies is so jaloers op mekaar. Die loots wat saam met Henk is, is glad nie iets om na te kyk nie. Arme man, dink Sunette toe sy aan Jan dink wat maar sku is vir die lugwaardinne. Hy sorg dat hy eerste op die vliegtuig is en wag tot die laaste passasiers en bemanning van die vliegtuig af is voor hy sy verskyning maak.
Anzelle is vandag aan diens in die klein kombuisie in eerste klas terwyl Sunette die passasiers verwelkom en na hul sitplekke neem. Sunette help ook om die hand bagasie in die oorhoofse bagasie kompartemente te sit en seker te maak hulle is mooi toe.
Toe al die passasiers aanboord is, word die deure toegemaak en Sunette maak die aankondigings oor die luidspreker stelsel dat hulle binnekort gaan opstyg en dat almal hul veiligheidsgordels moet aansit. Sy verduidelik hoe die gordels in mekaar pas. Sy verduidelik ook wat die prosedures is tydens ’n noodgeval en hoe die suurstof maskers aangewend moet word. Sy demostreer hoe die lewensreddingsbaadjies aangetrek moet word en hoe dit vanself sal opblaas as jy die toutjie trek.
Sunette het net betyds haar sitplek ingeneem voor die vliegtuig begin versnel en hulle opstyf. Die vliegtuig se enjins is baie kragtig en hulle is vinnig in die lug. Dit is ’n vlug van twaalf en ’n half ure en kan moeisaam raak met so baie passasiers op die vliegtuig. Toe hulle in die lug is, staan Sunette op en kondig aan dat die passasiers hul veiligheidsgordels kan losmaak en mag rondbeweeg in die vliegtuig. Die middagete sal oor ’n uur bedien word.
Anzelle begin van die kombuisie se kant af middagete bedien. Toe sy amper deur eerste klas is, en vir die volgende passasier wil vra wat hy wil eet, kyk sy in daardie smarag groen oë vas. Sy erken dadelik daardie groen oë en sien dat dit Amir is. Sy groet beleef en vra wat hy wil eet. Hy antwoord haar hoflik en sy gee sy kos aan. Hulle vingers raak aanmekaar. Dit gooi Anzelle se konsentrasie heeltemal deurmekaar. Sy laat val amper sy kos, maar kry vinnig haar ewewig terug. Sy is so gegooi deur daardie skok wat weer deur haar lyf gehardloop het, dat sy amper vergeet van die laaste paar passasiers wat oor is. Toe sy klaar middagete bedien het, gaan sy terug na die kombuisie waar Sunette besig is om die verversingstrollie met die koeldranke en lekkernye op, reg te kry.
“En nou Anzelle, waar kom daai blos op jou wange vandaan?”
“Gaan bedien jy eers die drinkgoed, dan vertel ek jou. As jy die passasiers bedien, kyk na die groot forse man met die swart hare en groen oë in die tweede ry van voor af.”
Sunette maak soos Anzelle gesê het en snak na haar asem toe sy in Amir se groen betowerende oë inkyk. Sjoe maar hy is baie aantreklik, dink Sunette by haarself. Nou is sy nuuskierig om by Anzelle te hoor wat met haar en die aantreklike man gebeur het, maar gaan rustig voort met die drinkgoed tot al die passasiers gekry het wat hulle gevra het.
Toe sy die trollie op sy plek parkeer, vra sy “sjoe Anzelle wie is daardie aantreklike man en hoekom laat hy so ’n blos op jou wange?”
“Dit is hy wat my gevang het toe my skoen in die gleuf by die hysbak vasgehak het. Toe die hysbak se deure oop gegaan het, het ek nie opgekyk nie. My skoen hak toe vas en ek val vorentoe, en skielik sien ek net hierdie paar sterk hande wat my vang. As dit nie vir hom was nie, is ek seker ek sou gesig eerste in die hysbak beland het. Toe ek opkyk, kyk ek in daardie groen oë in vas. Ek kyk in sy oë en hy kyk in my oë en nie een van ons kry ’n woord uit nie. Toe ons uiteindelik mekaar goed uitgekyk het, het ons onsself aan mekaar voorgestel. Maar daai bou van die man is iets uit die boonste rakke uit. Blykbaar het hy sy ma vergesel wat by haar siek suster kom kuier het. Hy het gesê sy ma is van Suid-Afrika. Dit is omtrent al wat ek van hom weet.”
“Hy is ’n baie aantreklike man. Daardie oë van hom is omtrent betowerend. Ek het al gehoor die Arabiese mans hou van blondines, so jy moet maar versigtig wees dat hy jou nie dalk ontvoer nie. Dalk sit hy jou in sy harem in sy paleis.”
“Jy moet jou laf hou, en hoe weet jy in elk geval van watter land af kom hy.”
“Ek raai maar, omdat ons nou soontoe vlieg.”
“Jy het ’n punt beet” sê Anzelle en voel soos ’n regte dom blond.