HOOFSTUK 2
Die lang vlug is amper verby. Anzelle is redelik uitgeput. Dit sal haar leer om nie die aand voor so lang vlug weer so hard te kuier nie. Sy gaan sit langs Sunette.
“Ek het weer so ’n naar kol op my maag. Ek hoop ons land gou en dat alles vlot sal verloop.”
“Ek is seker dis net die laaste alkohol wat nog in jou sisteem vassit. Geen ouvrou stories nie!” waarsku Sunette en wys met haar wysvinger na Anzelle toe.
In die verte kom die landskap van Saudi Arabia in sig. Sunette se woorde was skaars koud, toe die vliegtuig ewe skielik ’n snaakse ruk gee en daar ’n groot ontploffing is. Die suurstof maskers val uit die dak uit en die loots kondig aan dat almal hul veiligheidsgordels moet aansit en die suurstof maskers oor hul gesigte moet plaas. Anzelle en Sunette gaan sit in hul sitplekke en maak hul gordels vas. Alles gebeur so vinnig. Die vliegtuig se linkervlerk gaan afwaards en die vliegtuig is besig om uit die lug uit te val. Daar is benoude gille in die kajuit en die vrees hang tasbaar in die lug. Anzelle en Sunette gryp mekaar se hande vas. Koue vrees omvou almal in die vliegtuig. Die loots doen alles in sy vermoë om die vliegtuig onder beheer te bring, maar dis tevergeefs. Anzelle en Sunette kyk weer benoud na mekaar. Hulle daal al hoe laer na die see onder hulle. Die passasiers bid, huil en gil deurmekaar. Die vliegtuig tref die water met ’n harde slag. Met die impak skeur die vliegtuig in stukke omdat die loots nie die vliegtuig horisontaal kon kry nie. Almal in die vliegtuig word in verskille rigtings gegooi, meestal van hulle nog vasgemaak in hul sitplekke. Die laaste wat Anzelle kan onthou is die harde slag toe die vliegtuig die water tref. Sy kry egter ’n hou teen die kop, en toe word alles donker om haar.
Amir sit tussen twee ander passasiers. Hy gryp die armleunings van sy sitplek styf vas en probeer so ver mooitlik homself stabiliseer in sy sitplek, maar word tog baie rond geskud terwyl die vliegtuig die water tref. Hy hoor hoe skeur die metaal uitmekaar uit. Die passasier wat langs hom by die venster gesit het, word saam met die kant van die vliegtuig weggeskeur toe die vliegtuig die water tref. Hy voel iets hard tref hom teen sy oogbank, maar konsentreer meer op wat om hom aangaan. Amir is doodbang en probeer so kalm as moontlik bly om te kan oorleef. Hy bly sit tot die meeste geraas stil raak en die skommeling van sy sitplek ophou. Hy sien die water stroom vinning in die vliegtuig in en maak sy sitplek gordel los.
Die teenoorgestelde kant van waar hy gesit het, is besig om onder die water in te verdwyn. Hy sit doodstil totdat hy sien die gedeelte waar hy sit gaan onder die water in verdwyn. Hy trek die toutjie van sy lewensreddingsbaadjie sodat dit kan opblaas. Net toe die water by sy bors kom skop hy homself weg met sy voete teen een die sitplek en swem by die gat aan die kant van die vliegtuig uit na die oppervlak. Soos die vliegtuig sink agter hom, swem hy baie vinnig weg sodat die vliegtuig hom nie saamtrek onder die water in nie. Toe hy ’n entjie ver weg geswem het, kyk hy om om te sien hoe ver hy van die wrak af is. Hy erken dadelik Anzelle se blonde hare en haar uniform wat nie ver van hom af in die water dryf nie. Haar blonde hare is egter bevlek met bloed.
“Anzelle! Anzelle!” roep hy na haar, maar sy antwoord nie terug nie. Hy swem vinnig tot by haar en voel of sy nog ’n pols het. Sowaar daar is nog ’n ligte pols. Verlig kry hy haar aan haar kraag van haar uniform beet en begin na die oewer toe te swem. Hy is egter met afgryse gevul om te sien hoe die lyke op die water om hom begin dryf en hy hulle uit die pad uit moet stoot om by die oewer uit te kom. Hierdie nagmerrie gaan nog lank by hom bly.
Anzelle herwin vir ’n minuut of twee weer haar bewussyn toe iemand haar aan haar uniform deur die water trek. Sy kan nie sien wie dit is nie. Sy voel net hoe die water oor haar spoel soos sy deur die water getrek word. Vaagweg hoor sy stemme. Maar toe verval sy weer in die diep donkerte in van al die bloed wat sy al verloor het.
Amir swem na waar die nooddieste alreeds besig was om bote in die see in te stuur om die passasiers wat oorleef het, uit die see uit te haal. ’n Paar brandweermanne kom help hom toe hy in die vlakwater is. Hulle help hom tot op die oewer terwyl twee ander vir Anzelle na die oewer toe neem. Die dokter op die oewer het Amir dadelik herken.
“Amir, my prins, waar het u seergekry, het jy enige pyn êrens?”
“Nee dokter, net hier en daar ’n skraap merk.”
Dit voel of daar iets langs sy gesig afloop en toe hy dit met sy hand afvee, sien hy dit is bloed.
“Jy het ’n sny op jou oogbank” merk die dokter op en kry dadelik ’n stukkie gaas om die bloed mee af te vee.
“Hier, plaas druk op die wond” sê hy vir Amir en neem Amir se hand en plaas sy vingers op die wond.
“Dit is ’n klein snytjie maar jy sal nog steeds steke moet kry.”
“Sy het nog ’n pols” sê Amir en wys na Anzelle.
“Ek sal sorg dat sy by die hospitaal kom” sê die dokter en skree bevele uit aan die mediese personeel op die toneel.
“Dankie dokter, ek sal sommer saam met haar hospitaal toe gaan” bedank Amir hom en klim agter by Anzelle in die ambulans in.
Hy kyk bekommerd na die klein bleek gesiggie wat teen die kussing lê terwyl die ambulansman haar kop verbind. Hy hoop sy oorleef die ongeluk, want diep binne in hom het hierdie fyn meisie in ’n kort tydjie iets geroer in hom wat hy nog nie mee kennis gemaak het nie.
Toe hulle by die hospitaal kom, neem hulle vir Anzelle op en versorg haar kopwond. Hulle moet ongelukkig haar hare afskeer om die wond behoorlik te kan skoonmaak en steke te kan insit. Sy is egter nog bewusteloos deur die hele proses. Amir laat die dokters hom ook ondersoek. Hy het gelukkig net ’n paar skraafplekke wat hulle ontsmet en hy kry drie steke in sy oogbank. Hy word vir veiligheid ook ’n tetanus inspuiting gegee. Dan is hy vry om huistoe te gaan.
“As u enigsins sleg of duiselig voel, moet u my asseblief laat weet dat ek paleis toe kan kom. Maar dit lyk net of die vel gebreek is” beveel die dokter by ongevalle hom aan.
“Ek sal kyk hoe voel ek. Dankie.”
Voor Amir die hospitaal verlaat gaan hy na Anzelle se kamer toe. Hy vra vir die dokter aan diens wat alles met haar fout is.
“Sy het ’n slegte hou teen die kop weg, maar anders as dit is daar net skraap merke. Sy is nog onder verdowing. Ek wil net kyk of sy nie bloeding op die brein het nie. Ons sal later kan vasstel of dit die geval is. Ek sal u op hoogte hou van haar vordering.”
“Dankie.”
Hy kontak die paleis en hulle stuur ’n drywer om hom te kom haal. Sy drywer ontmoet hom voor die hospitaal en neem hom na die paleis toe. Toe hy instap, kom sy pa hom tegemoet.
“Amir, my seun, het jy baie seergekry. Kyk hoe lyk jou oogbank! ’n Boodskapper het kom vertel van die vliegtuig wat geval het. Ek het groot geskrik, want ek het geweet dit is die vliegtuig waarop jy was. Is jy seker jy het nie seer gekry nie” vra sy pa bekommerd terwyl hy vir Amir op en af kyk.
“Nee gelukkig nie, net hier en daar ’n skrapie, maar niks ernstig nie. Dokter Abdul het my ondersoek.”
“Dis goed, ek is bly jy het nie iets oorgekom nie. Gaan stort en trek skoon klere aan. Dan gaan sit ons rustig, sodat jy my van die ongeluk en jou besoek aan Suid-Afrika kan vertel.”
Nadat Amir klaar gestort het, dink hy bekommerd aan Anzelle. Hy sal egter eers sy pa se wense moet nakom voor hy weer hospitaal toe kan gaan. Hulle skink vir hul elkeen ’n drankie en gaan sit gemaklik in een van die sitkamers in die paleis. Amir vertel sy pa dat dit vir hom geklink het of die een enjin van die vliegtuig ontplof het, wat veroorsaak het dat hulle in die see gestort het. Daar was baie mense wat dit nie oorleef het nie.
“Ek is net bly jy het nie seer gekry nie.”
“Moeder is nou by haar suster in Johannesburg. Sy gaan daar kuier en help so lank as wat nodig is. Haar suster het baie agteruit gegaan met die kanker wat so aan haar vreet. Ek het geskrik toe ek haar sien. Moeder sal laat weet hoe dit gaan.”
“Dis goed dat jou moeder daar kuier. Ek sal ook later met haar praat.”
Dit raak stil tussen die twee en koning Ali kan sien daar is iets wat Amir pla.
“Het daar nog iets gebeur waarvan ek moet weet Amir?”
“Nee daar het nie. Ek wil net toestemming vra om die een lugwaardin wat in die ongeluk was, hier in die paleis te kan versorg.”
“Nee, Amir! Jy weet dit kan nie gebeur nie. Jy weet hoe jaloers Laila is. Julle trou volgende jaar. Jy kan onmoontlik nie nou ’n ander vrou in die paleis in bring nie!”
“Pa sy het ’n slegte hou teen die kop gekry. Ek weet nie hoe lank sy nog in die hospitaal gaan wees nie. Hier kan sy goed versorg word. En in elk geval is ek nie seker of ek wel met Laila wil trou nie.”
“Ons het hierdie huwelik gereël toe julle nog kinders was. Ek het ’n ooreekoms aangegaan met haar vader. Jy kan dit nie nou verongeluk nie.”
“Pa die tyd van georganiseerde troues is lankal verby. Ek het nie gesê ek wil met Anzelle trou nie. Sy is net ’n pragtige jong vrou wat my oog gevang het. Ek was oppad om in die wagarea te wag voor ek aanboord die vliegtuig kon gaan. Toe die hysbak se deur oopgaan, het sy letterlik in my arms in geval. Haar hakskoen het vasgehak en soos sy vorentoe geval het, het ek haar gevang. Ek dink net dit sal gasvry van my wees om haar hier te akkommodeer tot sy beter voel. Ek dink sy is die enigste een van die bemanning op die vliegtuig wat oorleef het. Jy gooi nooit ’n juweel wat in jou skoot val, weg nie.”
“Ek dink nog steeds nie dis ’n goeie idee nie.”
Koning Ali en Amir kyk mekaar vierkantig in die oë. Koning Ali het nou al geleer dat Amir baie hardkoppig en eiesinnig kan wees. Dit lyk nie of dit die keer gaan help om te stry nie.
“Nou goed dan, maar net vir ’n paar dae. Dis nie ’n hotel hierdie nie” stem koning Ali naderhand nukkerig in. Amir gee sy pa ’n grynslag, want hy weet hy het hierdie rondte gewen. Die wêreld daar buite is besig om te verander en die jonger geslagte wil nie die ou rigiete reëls volg wat jare gelede neer gelê is nie.
Toe Amir en sy pa klaar middagete geëet het, haas hy hom na die hospitaal. Hy kan glad nie verklaar hoekom Anzelle vir hom so ’n aantrekkingskrag het nie. Eintlik is sy taboe, en hy kan hierdie soeke na haar nie verklaar nie. Dit is asof sy siel hunker om saam met haar te wees. Mooi, die is sy beslis, maar hoekom hunker hy so na haar? Hy wil haar klein figuurtjie net teen se breë bors vasdruk en haar veilig hou. Hy weet baie goed dat sy vader ook wel die reëls oortree het toe hy met sy ma getrou het. Sy het ook van ’n ander land afgekom. Sy pa het met sy ma getrou so hy verstaan nie hoekom sy pa nog steeds die oeroue tradisies op hom wil afdwing nie. Seker omdat sy ma partykeer so kon rebeleer teen sy pa as hy sy voet neergesit het. Sy ma kry altyd so stoute vonk in haar groen oë en dan weet Amir dat sy ma besig is om te rebelleer. Maar partykeer dink hy sy doen dit aspris, net om al sy pa se aandag te kry. Gelukkig hoor jy altyd later hoe skater die twee van die lag in hul kwartiere as jy verby loop. Hulle kon nog nooit lank kwaad bly vir mekaar nie. Sy ma was onderdanig toe sy jonger was, maar raak al hoe moeiliker nou dat sy ouer raak en weet net hoe om vir koning Ali om haar pinkie te draai.
By die hospitaal is Anzelle egter nog bewusteloos.
“Hoe gaan dit met haar?”
“Sy is stabiel. Ek sal solank die breinskandering doen, dan hoef u nie te wag tot môre toe nie. Ek is seker ons sal nou al iets optel.”
Hulle kom haal vir Anzelle en Amir wag ongeduldig vir haar om terug te kom.
“Dit lyk nie of daar bloeding op die brein is nie. Sy sal seker vanself weer haar bewussyn herwin. Ek dink dis meer die sterk medikasie wat ons haar gegee het, wat haar so vas laat slaap. Dit is nie nodig dat sy in die hospitaal bly nie. Jy moet dan net kyk hoe reageer sy as sy wel wakker word. As dit vir jou lyk of sy nie reg reageer nie, bel my dadelik. Ek sal van môre af elke dag by die paleis omkom om te kyk hoe sy vorder.”
“Dankie dokter” sê Amir.
Die dokter reël toe sommer dadelik om vir Anzelle per ambulans na die paleis te vervoer. Toe die ambulans by die paleis aankom wag Amir alreeds vir hulle want hy het met sy motor vooruit gery. Hy het ’n kamer vir Anzelle reggemaak in sy gedeelte van die paleis sodat hy haar kan dophou. Hulle stoot haar in op die ambulans bed en plaas haar oor in die groot bed. Haar klein gestalte raak weg in die groot bed. Amir bedank die ambulans personeel en maak Anzelle versigtig met die kombers toe. Lank staan hy en kyk na haar voor hy omdraai en na sy kamer toe gaan. Dit was ’n lang dag en Amir gaan vroeg bed toe. Hy slaap egter onrustig na die ongeluk en kry nagmerries dat hy verdrink. Nat gesweet skrik hy telkemale deur die nag wakker en rol rond tot in die vroeë oggendure voor hy uiteindelik rustig aan die slaap raak.