HOOFSTUK 2
Anja verkyk haar na die geboue in die stad. Hulle ry verby die kasteel en sy sien ook die bord wat wys na die kabelkar wat by Tafelberg opgaan. Dit is ’n mooi sonnige dag en Tafelberg lê uitgestrek in die verte. Sy sal eendag weer terugkom om al hierdie besienswaardighede te kom aanskou. Die taxi bestuurder stop voor ’n groot kantoor gebou.
“Ons is hier.”
“Baie dankie” sê Anja en betaal hom.
Hy klim uit en haal haar tasse uit die kattebak uit.
“Geniet jou vakansie” groet hy vriendelik.
“Dankie” sê Anja en glimlag vir hom.
Sy gaan die gebou binne en kyk op die kennisgewing bord op watter vloer sy moet wees en neem die hysbak na die 7de vloer. Sy sien die naambordjie van Lubbe Marais prokureurs wys sy moet na regs gaan. Sy gaan in by glasdeure en stap na die ontvangsdame toe.
“Goeie dag, waarmee kan ek help juffrou?” groet die ontvangsdame vriendelik.
“Goeie dag, ek is op soek na Meneer Marais.”
“Seker, wat is jou naam juffrou? ”
“My naam is Anja Basson.”
“Sit maar solank, ek sal hom laat weet jy is hier.”
“Dankie.”
Die ontvangsdame tel die telefoon op en praat met meneer Marais.
“Hy sal nou by jou wees.”
“Dankie.”
Na ’n paar minute kom ’n middeljarige man uit sy kantoor uit, in die gang af gestap. Sy slape begin grys word, maar hy dra sy jare goed. Hy is lank, fors gebou en nogal aantreklik vir sy jare. Hy steek sy hand uit en groet vir Anja.
“Môre Anja, ek is Lodewikus Marais” stel hy homself voor. Hy gee vir Anja ’n stewige handdruk.
“Môre Meneer” groet Anja terug en kyk op in sy groen oë en ’n mooi glimlag.
“Kom ons gaan deur na my kantoor toe, dan gesels ons daar.”
Anja volg hom na sy kantoor toe. Hy wys vir haar om plaas te neem op een van die stoele voor sy lessenaar terwyl hy self aan die ander kant gaan sit.
“Anja die rede hoekom jy hier is, is soos wat ek alreeds gesê het, jy is die erfgenaam benoem in Frederika Basson se testament. Sy is vier weke terug skielik aan ’n hartaanval oorlede is. Sy het haar huis met al haar besittings aan jou bemaak. Alhoewel jy haar nie geken het nie, het sy dit goed gedink om alles aan jou oor te laat omdat sy so mal was oor jou pa toe hy ’n kind was. Sy het nooit getrou nie en ook geen kinders gehad het nie, soos ek alreeds genoem het. Die eiendom wat jy erf is ’n huis wat in Knysna teen een van die twee koppe gebou is. Hy sit teen die kranse. Dit is ’n groot huis met baie slaapkamers, almal met hulle eie badkamer. Daar is ook ’n sitkamer, eetkamer en vele meer. En al die meubels daarin is ook joune, meestal antieke stukke. Omdat die huis baie groot is kan jy dit omskep in ’n gastehuis om so vir jou ’n inkomste te genereer. Die tante het van tyd tot tyd die kamers uitverhuur vir vakansiegangers of mense wat net ’n nag of so wou oorslaap. Daar is ook haar motor wat ek hiernatoe laat bring het om jou moeite te spaar om daar te kom. Dit is ook deel van die erfporsie. Gelukkig is dit redelik nuut so jy sal nie probleme daarmee hê nie. En dan ook is daar ’n bankrekening met R500 000,00 in wat jou kan help om aan die gang te kom met die gastehuis. Hier is die bankkaart met die pin en ook die papierwerk wat wys dat die rekening in jou naam is. Hier is die sleutels vir die huis en die sleutels vir die motor. Teken asseblief hier op die lyntjie om te sê jy aanvaar die testament en alles wat aan jou nagelaat is. Ek sal jou laat weet wanneer die huis en die motor in jou naam oorgedra en geregistreer is” sê meneer Marais tewyl hy vir Anja wys waar om te teken.
Anja is stomgeslaan. Eers staar sy hom net aan, versteen. Hy gee egter die pen vir haar en wys weer na die plek waar sy moet teken. Sy kom tot verhaal toe sy sien meneer Marais kyk haar fronsend aan.
“Ja dit is alles waar. Jy kan my maar glo” sê hy glimlaggend.
Sy teken die papierwerk, maar sukkel nog om tot verhaal te kom.
“Ek kan sien jy het dit glad nie verwag nie, maar soms draai ’n mens se lewe na die goeie en so ’n meevallertjie kom partykeer net een keer verby” sê hy. Sy glimlag net vir hom sonder om iets te sê.
Sy wonder nou hoe lyk die huis. Val hy uitmekaar uit, of is die huis ooit nog bruikbaar. Sy sal moet wag en sien. Nog erg verward gee sy die pen terug.
“Geluk Anja, jy is nou die trotse eienaar van Frederika Basson se erfporsie en die huis teen die kranse. Ek hoop jy vind jou voete vinnig en as daar enige vrae is, of as jy nie seker is oor iets nie, kontak my gerus enige tyd.”
“Dankie” kry Anja dit uit.
Sy neem al die sleutels en staan op.
“Kom ek gaan wys jou waar die motor geparkeer is” stel Meneer Marais voor en wys met sy hand na die deur.
Hy neem een van haar tasse by haar en hulle stap na die hysbak en gaan af na die ondergrondse parkering. Hy lei haar na ’n klein motortjie toe.
“Die adres is klaar op die GPS ingesit so jy kan net volgens die instruksies ry” sê hy. Hy sit haar tas neer en gee vir Anja weer ’n stewige handdruk.
“Dankie” sê Anja nog steeds uit die veld geslaan.
“Nou goed dan. Mooi ry en laat weet as jy enige iets nodig het” groet meneer Marais en stap weg.
Sy plaas haar bagasie in die kattebak en sluit die bestuurderkant van die motor oop en klim in. Die motor ruik nog nuut binne. Dit is baie goed versorg en ’n mens kan sien dat dit nie baie gebruik is nie. Sy skakel die motor aan en druk op die GPS om haar rigting aan te dui. Dit is 488 kilometer van hier af tot by die huis. Gelukkig is dit nog vroeg en sy sal voor donker daar aankom.
Dit is vir Anja mooi om al die plekke so langs die pad te sien soos wat sy langs die kus af ry. Sy stop in Mosselbaai om weer petrol in te gooi. Sy rek haar bene en gaan kry vir haar iets om te eet. Sy wonder wat wag vir haar. Hierdie is die begin van ’n hele nuwe lewe. Sy weet nie veel van die bestuur van ’n gastehuis af nie, maar sy sal leer. Dit is darem ’n groot verandering van om papiere rond te stoot en om vir mense slaapplek te gee. Sy glo sy sal goed doen daarmee, want sy het mense nog altyd interresant gevind. Sy het die werk by die versekeringsmaatskappy geneem omdat sy nie regtig geweet het wat sy wil doen nie. Tot haar spyt, maar nou het sy ’n nuwe geleentheid om haar lewe te herontwerp en te doen wat haar vryheid gee en haar die geleentheid gee om haar eie baas te wees.
Dit is teen sononder wat Anja by die huis arriveer. Sy het nie geweet dit is so afgesonder nie. Sy het verby al die ander huise gery om by die een uit te kom. Sy hou stil voor die enorme huis en kyk op na die vensters op die boonste verdieping. Verbeel sy haar of het sy nou net die gordyn sien beweeg in een van die vensters. Seker haar verbeelding, dink sy. Sy is moeg van al die opwinding van die dag en die lang rit hiernatoe.
Sy klim uit en loop na die voordeur toe. Twiiieeeeeee! skree die wind om die hoek. Anja wip soos wat sy skrik. Sy versteen en luister eers wat die geluid gemaak het. Weer twiiiieeeee! die wind om die hoek. Ag, dis net die wind, dink sy by haarself en loop na die groot hout voordeur toe. Sy sluit die deur oop en dit swaai oop met ’n kraakgeluid. Binne die voorportaal staan daar twee viktoriaanse stoele en ’n tafeltjie aan die een kant en aan die ander kant die imposante trappe met ’n mooi hout reëling wat na bo lei.
Eers stap Anja na die eerste deur toe die naaste aan die voordeur. Sy stoot die deur oop en sien dat dit die sitkamer moet wees. Dit is ’n groot vertrek met ou antieke banke en stoele in. Sy loop na die venster toe en trek die gordyne oop. Sy snak na haar asem toe sy die mooi uitsig oor die see sien. Sy draai om, om die res van die huis te verken. Sy stop in haar spore toe sy die groot skildery van ’n vrou sien hang teen die muur regoor die venster bokant die vuurmaakplek. Sjoe maar daai tannie lyk baie kwaai op daardie skildery. Anja hou haar oë op die skildery en dit is asof die oë haar volg toe sy na die ander deur toe loop.
Die volgende deur wat sy oopmaak is die eetkamer. Daar is ’n groot stinkhout tafel en stoele wat ten minste twaalf mense by kan sit. Sy loop verby die tafel na die volgende deur toe wat lei na die kombuis. Die kombuis is groot en enige sjef sal droom om so ’n kombuis te hê. Dit het ’n groot gasstoof in, so as die krag dalk afgaan, sal jy darem nog vir jou gaste kan kook, dink Anja. Sy loop na die agterdeur toe en sluit dit oop. Daar is ’n binnehof waar ’n wasgoed draad is. Sy loop deur die binnehof na ’n vertrek waar sy die wasmasjiene en tuimeldroërs aantref. Sy loop terug na die kombuis deur toe en hoor weer die snaakse geluid wat die wind om die hoek van die huis maak. Sy is egter onbewus van ’n paar oë wat haar dophou. Sy sal moet gewoond raak aan daardie gelooi om die hoeke as sy hier wil bly, dink sy by haarself.
Anja loop terug soos wat sy gekom het en gaan dan op met die trappe. Toe sy bo kom is daar ’n gang na links en na regs. Sy draai regs in die gang wat langer is en maak elke deur oop om te kyk hoe lyk die kamers. Daar is ses kamers, drie aan elke kant van die gang. Die drie aan die een kant kyk uit oor die see en die ander drie kyk uit oor die kop waarteen die huis gebou is. Elke kamer het sy eie badkamer en is smaakvol gemeubileer in ligte natuurlike en pastel kleure. Dit sal ideal wees vir mense om oor te bly, dink sy ingenome.
Sy loop uit in die gang en loop in die teenoorgestelde rigting na die ander punt van die gang toe. Dit is ’n korter stukkie en sy maak die enigste deur aan daardie kant oop. Dadelik ruik sy ’n parfuum reuk van ’n vrou wat in die kamer hang. Iets soos laventel en lyfpoeier. Soos die ou tantes altyd geruik het as sy saam met haar pa by die ouetehuis gaan kuier het. Dit moet seker die oorlede tante se kamer gewees het. Dit is baie ruim en het ook sy eie badkamer en ’n informele sitkamertjie waar die tante seker meestal van haar tyd spandeer het. Alles is pynlik netjies en op hulle plek. Anja val agteroor op die groot bed neer en kyk op na die plafon na die groot kandelaar wat uit die dak uithang. Sy kan nog steeds nie glo dat hierdie plek sommer so in haar skoot geval het nie. Die huis lyk soos iets uit ’n sprokiesverhaal. Kan dit dalk die begin wees van haar sprokiesverhaal, wonder sy.
Na ’n paar minute staan sy op en loop uit die kamer uit om haar bagasie uit die motor te gaan haal. Sy sal die bietjie meubels wat sy het, laat afstuur en dit hier iewers stoor of laat inpas. Daar is nog buitegeboue wat sy moet gaan verken wat agter die vierkant is. Maar eers sal sy haar bagasie gaan haal en in haar kamer gaan sit. Sy het nog baie tyd om die hele plek te verken.
Die son is besig om te sak toe sy haar bagasie bo in die kamer neersit. Sy het vergeet om kruideniersware te kry. Sy loop na die kombuis toe, en kyk in die yskas en spens. Daar is niks om te eet nie. Al die bederfbare kos is seker verwyder toe die tante oorlede is. Meneer Marais het nie geweet hoe lank hy na haar gaan soek nie. Nou is sy honger met niks om te eet nie.
Sy neem die sleutels van die motor, skakel die lig op die stoep by die voordeur aan en sluit die deur agter haar. Sy ry in dorp toe en is gelukkig om nog ’n supermark oop te kry. Sy koop ’n paar goedjies wat sy sal nodig kry vir die volgende paar dae en loop na haar motor toe. Sy is so ingedagte dat sy nie sien sy loop voor ’n aankomende voertuig in nie. Sy skrik groot toe die bakkie ewe skielik hier by haar toeter blaas. Sy kyk vies op en die bestuurder beduie met sy hande sy moet kyk waar sy loop. Sy kyk vas in ’n paar blou oë met ’n aantreklike gesig van ’n man, maar neem nie regtig notisie nie. Sy wys net sy is jammer en loop verder na haar motor toe.