HOOFSTUK 1
“Ag verdomp! Ek het so wragtig my selfoon by die huis vergeet” sê Lindie ontstoke vir haarself. Waar was haar kop vanoggend. Sy sal nou moet omdraai huistoe om dit te gaan haal, anders is sy verlore sonder dit vandag. Haar hele lewe is op daardie selfoon.
Sy kyk of dit veilig is en draai om terug huis toe. Toe sy by die oprit inry dink sy dis snaaks dat Gustav se motor nog by die huis is. Hy was veronderstel om net na haar in die pad te val werk toe. Sy klim so sag as moontlik uit haar motor uit en druk die deur saggies toe. Sy vries in haar spore in die paadjie oppad voordeur toe. Die voordeur staan effens oop.
Sy het al hoeveel keer vir Gustav gesê hy moet die struike terug snoei sodat ’n mens die voordeur beter kan sien, maar vir een of ander rede wou hy dit nie doen nie. Haar keel trek toe van die vrees. Wat as daar rowers in die huis is! Waar is Gustav, is hy veilig? dink sy benoud. Sy stoot die deur saggies oop en staan stil om te luister of daar geluide in die huis is. Sy kan hoor dis asof iemand besig is om rond te snuffel in hulle slaapkamer.
Wat moet sy nou doen? dink sy benoud by haarself. Sal sy omdraai en weg hardloop om ’n telefoon te gaan soek om die polisie te bel, net om later terug te kom sonder om te weet of Gustav dalk dood lê iewers in hulle huis, of gaan sy braaf genoeg wees om te gaan kyk? Sy besluit dat sy eerder wil weet wat in die huis aangaan. ’n Wapen, ek moet darem iets in my hande hê om myself te verdedig dink sy benoud.
Sy loop op haar tone na die kombuis toe en gryp die eerste en beste swaarboom pan wat sy in die hande kan kry. Nou nie die beste wapen nie, maar darem as ek ’n hou kan inkry, sal ek seker ’n bietjie tyd kan wen dink sy met vrees wat haar verlam. Sy haal diep asem in en uit, en sluip in die gang af. Sy vries voor hulle slaapkamer deur. Sy luister. Sy hoor ’n hou val en dit klink beslis of iemand definitief met iets geslaan word. Daar is beslis iemand in hulle slaapkamer! Sy stoot die deur stadig oop. Sy tree op haar sagste in die kamer in, maar wat sy daar sien laat haar so groot skrik, dat sy vir ’n paar sekondes sonder woorde net staan en staar na die toneel wat hom hier voor haar afspeel. Sy kan haar oë nie glo nie! Wat sy sien vul haar met afgryse en woede.
Toe skop die adrenalien en woede in soos sy haar vererg vir wat sy sien. Lindie skree kliphard “wat de donner gaan hier aan?” en slaan vir Gustav met al haar krag met die pan teen die kop. Hy val met skok op sy gesig terug op die bed. Gustav skrik hom asvaal. Waar kom Lindie dan vandaan terwyl sy oppad werk toe moes gewees het, wonder hy.
Charlotte, die buurvrou, skrik net so groot. Sy vlieg op en probeer by Lindie verby hardloop om by die deur uit te kom, maar Lindie se reaksie is te vinnig en sy slaan Charlotte vol in die gesig met die pan toe sy probeer verby hardloop. Charlotte val soos ’n sak patats op die grond neer, vir ’n paar minute so uit soos ’n kers.
“Wat de hel gaan hier aan Gustav? Hoe lank gaan dit al agter my rug aan? Is ek nie genoeg vir jou nie?” vra sy ontstoke terwyl sy dreigend die pan in sy rigting wys.
“Ag my duifie ek kan verduidelik!” sê Gustav terwyl hy opstaan.
“Ek is nie jou duifie nie, jou adder! En moenie aan my vat nie, ek sal jou weer met die pan slaan! Bly waar jy is!” sê sy en swaai die pan gevaarlik in sy rigting.
Hy stop in sy spore. Nog nooit vandat hy vir Lindie ken, het hy haar al so kwaad gesien nie.
“Hier bekommer ek my dood dat daar inbrekers in die huis is, besig om jou te vermoor. Maar min wetend is jy besig om my te verkil! Jy kan bly wees ek het nie ’n mes in die kombuis gevat nie anders het ek jou vol gate gesteek, jou manlikheid afgesny en staan en kyk hoe jy lê en uitbloei. Hoe kon jy!” skree sy en lig weer die pan in die lug op.
“Kom nou Lindie, dit was nie ergstig nie, ons het net ’n bietjie rond gespeel.”
“Dit lyk nie vir my na speel nie. Nie een van julle het ’n draad klere aan nie. En wat maak my houtlepel hier op die bed?”
Nou weet sy waar die geluid van die hou was wat sy gehoor het.
“Regtig, my kombuis gereedskap! Kon julle nie julle eie speelgoed gekoop het nie? Ag nee sies man! G’n wonder jy is die laaste paar maande so afsydig nie. Hoe lank gaan hierdie spektakel nou al aan?”
“Ek is jammer!” sê Gustav met sy hande omhoog.
“Nee Gustav, dit is te laat vir trane. Hoe lank gaan dit nou al aan?”
Gustav staar haar net aan.
“Antwoord my!” skree Lindie en Gustav wip soos wat hy skrik.
Gustav besef hy is nou regtig in die moeilikheid en sal moet praat want daardie uitdrukking op Lindie se gesig wys hom hy beter praat of hy gaan weer ’n hou kry, want sy staan weer dreigend nader met die pan.
“Dit is seker al vir twee maande, elke oggend as jy klaar weg is werk toe” antwoord Gustav haar verleë. Hy lyk kompleet soos ’n hond wat raas kry en sy ore plat trek.
“Jy kon met my gepraat het, sodat ons ’n oplossing kon kry vir die probleem. Maar in plaas daarvan het jy verkies om rond te neuk met hierdie slet! Ek is jammer maar hierdie is nie iets wat ek jou sal kan vergewe nie” sê Lindie terwyl sy die seerste seer ervaar van haar lewe.
Nog nooit het iemand haar hart so gebreek nie. Dit voel of iemand besig is om haar hele wese om te keer en haar hart uit haar liggaam uit ruk. Sy voel skoon duislig en naar van seer en teleurstelling. Hoe kon hy! en kners op haar tande om die trane terug te hou. Verdwaas en verleë staan Gustav haar en aanstaar. Magteloos sonder woorde.
Sy draai na hom en sê “sorg dat al jou goed uit die huis uit is voor ek vanaand by die huis kom. Ek gee nie om waar jy heen gaan of waar jy gaan bly nie. As ek hier kom moet jy weg wees” sê sy en weier dat die trane haar oorval. Sy sal nie voor hom huil nie. Blerrie vuilgoed! Sy moet hier uitkom, sy kan hierdie toneel nie meer hanteer nie, dis te seer.
Soos wat sy uitstap uit die kamer uit en Charlotte begin beweeg slaan Lindie haar sommer nog ’n hou teen die kop met die pan om te probeer om die pyn wat sy nou ervaar, oor te dra na die slet wat op die grond lê.
“Verdomde teef!” sê Lindie met die uitloop.
Gustav gryp gou ’n broek om aan te trek en hardloop agter Lindie aan. In die proses hak sy voete vas en hy val amper op sy gesig. Hy huppel eers op die een been en dan op die ander om sy broek aan te kry en hardloop agter haar aan.
“Ek is baie jammer my duifie, ek belowe dit sal nie weer gebeur nie” smeek hy agter haar aan. Lindie gooi die pan op die kombuis toonbank neer en vat haar selfoon wat nog steeds lê waar sy hom vergeet het.
“Dis verby. Hierdie is die laagste ding wat jy ooit aan my kon doen. Sorg dat al jou goed uit die huis uit is, of ek steek dit alles aan die brand as ek vanmiddag hier kom en jou goed is nog in die huis.”
Hy sien dit gaan nie help om te stry nie. Dalk het hy te ver gegaan maar hy het nie gedink dat Lindie sou uitvind van sy verhouding met Charlotte nie, nog minder hulle op heter daad betrap. Charlotte is dan so sexy en oulik. Hoe kon hy sy hande van haar afhou as sy haar mooi lyfie dan so gretig aangebied het. Enige man sal val vir haar mooi kurwes, insluitend hy. Nou is hy behoorlik in die moeilikheid.
Lindie kan nie glo hy het dit aan haar gedoen nie. Sonder om terug te kyk klim sy in haar motor en ry weg. Sy is so kwaad maar ook so seer gemaak. Hoe nou gemaak? Sy was nog nooit in so ’n posisie nie. Sal haar liefde vir Gustav genoeg wees om hulle huwelik te probeer red of gaan hulle in die skeihof opeindig? Het hy nie voor die kansel belowe om altyd getrou te wees nie, wonder sy terwyl die trane nou vrylik oor haar wange stroom.
Toe Lindie by die werk aankom, hardloop sy gou in die kleedkamers in om haar grimering op te knap sodat niemand kan sien sy het gehuil nie. Sy sal moet kalm bly en probeer om deur haar dag te kom sonder dat iemand agterkom wat in haar persoonlike lewe aangaan, anders lê die skinderstories môre die hele gebou vol met tien oordrewe stertjies aangeheg.
Sy worstel deur die stapel werk op haar tafel en uiteindelik is die dag verby. Sy moet nou huistoe gaan om die gemors uit te sorteer wat vir haar wag. Sy is nog steeds kwaad en baie seer gemaak toe sy by die huis aankom. Genoeg om Gustav met haar kaal hande te verwurg. Maar sy wil nie graag in die tronk sit nie, so sy sal dit op die geregtelike manier hanteer.
Gustav wag haar in by die deur. Hy kan sien dinge het nie verander van vanoggend af nie.
“Kan ons kalm hieroor gesels Lindie?”
Lindie kyk op in sy gesig en wonder wie die man is wat hier staan. Sy ken hom glad nie meer nie.
“Ons kan” sê sy en gaan sit op die bank in die sitkamer. Hy gaan sit oorkant haar sodat hulle mekaar reguit in die oë kan kyk.
“Ek is jammer oor wat vanoggend gebeur het, maar dit verskoon nie my optrede nie. Dalk was ons huwelik al lankal in die moeilikheid en dat ek net nie tyd gemaak het om met jou daaroor te praat nie. Ek wou nie hê jy moes op die manier uitvind van my en Charlotte se verhouding nie. Ek het met haar gepraat en sy stem saam dat ek en sy ’n beter paartjie maak as ons twee. Ek is jammer Lindie maar ek dink dit sal beter wees as ons paaie skei. Ek sal môre ’n prokureur gaan sien om die egskeiding aan die gang te kry en omdat ons op kontrak getroud is, sal dit nie moeilik wees om die egskeiding so vinnig as moontlik af te handel nie. Stem jy saam?”
“Ja” sê Lindie verslae. Sy het nie gedink hy sal so vinnig alles opgee nie. Nou besef sy eers hoe min het sy vir hom beteken. Was hy dan ooit lief vir haar terwyl hulle getroud was of was dit net vir die gemak daarvan, wonder sy.
Binne twee maande is hulle deur die skeihof en alles is verdeel soos wat hulle ooreen gekom het. Lindie het vinnig besef dit gaan haar niks baat as sy probeer vashou aan die verlede as Gustav so ywerig was om aan te beweeg nie. Dis genoeg om enige vrou te laat twyfel aan haar eie vrouwees. Sy het al baie keer voor die spieël gaan staan en haar van alle kante af beskou. Sy het intussen ’n paar kilogram verloor, maar lyk nie uitermate vet of snaaks gebou nie. Dalk het hulle net nie die “magic”gehad wat nodig was om hulle huwelik lewendig te hou nie. Dit is nie asof sy preets in die slaapkamer was nie, maar hulle het ook nie buitengewone dinge gedoen nie. Atyd dieselfde begin, klimaks en einde. Nee, sy weet nie! dink sy en draai dan weg van die spieël af.